Spaar en Krediet Koöperatief Kontak Oranjekas


Bepalings en Voorwaardes vir die gebruik van die Oranjekas PAEO-kaart

UITREIKING VAN DIE KAART

Oranjekas het reeds 'n bestaande diens en sodra voldoende kliënte by hierdie diens aansluit so so 'n diens tot ons kliënte beskikbaar gestel word.
Die Oranjekas PAEO-kaart ("die PAEO-kaart") word uitgereik deur Oranjekas Spaar en Krediet Koöperatief Beperk, Registrasienommer 2009/003378/24 ("Oranjekas") kragtens 'n ooreenkoms met PAEO Financial Services Primary Coöperative Limited, Registrasienommer 2998/000296/24 ("PAEO") aan die gemagtigde kaarthouer ("u") wat 'n Oranjekas PAEO-kaart kliënt is. Hierdie dokument konstitueer die ooreenkoms wat die bepalings en voorwaardes bevat waaronder 'n Vooruitbetaalde Geslote Lus Oranjekas PAEO-kaart uitgereik word. Deur die Oranjekas PAEO-kaart te aanvaar en te gebruik, stem u in tot die bepalings en voorwaardes van dié ooreenkoms. Die kaart behoort aan Oranjekas en bly te alle tye die eiendom van Oranjekas en moet op versoek aan Oranjekas teruggegee word. U stem in om die kaart by ontvangs onmiddellik agterop met 'n balpuntpen te teken.

GEBRUIK VAN DIE KAART


Die kaart is nie 'n kredietkaart nie. Die kaart kan gebruik word om geld by enige Oranjekas-tak te onttrek. Die kaart is gekoppel aan u Oranjekasrekening wat u toelaat om vir dienste te betaal en aankope by enige goedgekeurde Oranjekas PAEO-kaarthandelaar te doen ( "Geslote Lus"). Die kaart word nie direk aan enige ander rekening of kredietkaartrekening gekoppel nie. U kan kontant of tjekdeposito’s oor die toonbank by enige Oranjekas-tak of Elektroniese oorplasing in u Oranjekas-rekening inbetaal. U sal 'n persoonlike identifikasienommer (PIN) kies om ongemagtigde gebruik van die kaart te voorkom. U is die enigste persoon wat die kaart mag gebruik, of toegang tot u PIN mag hê. Die gebruik van die kaart deur 'n derde party is 'n kriminele oortreding en vervolging sal dienooreenkomstig plaasvind.

U stem in:
  1. Om NIE die PIN aan enigeen te openbaar of dit op die kaart aan te bring, of dit aan iemand anders beskikbaar te stel nie.
  2. Om Oranjekas stiptelik in kennis te stel as die kaart of die PIN verlore of gesteel raak deur 0860 104 297 te skakel. Enige versuim om Oranjekas oor die diefstal of verlies in kennis te stel, sal as nalatigheid aan u kant geag word.
  3. As die kaart verlore raak of gesteel word, sal u verantwoordelik wees vir al die bedrae waarmee u rekening gedebiteer word deur die gebruik van die kaart.
  4. Nie aankope sal doen, geld onttrek of die kaart andersins gebruik vir transaksies wat die beskikbare balans oorskry nie.
  5. Dat u die kaart op eie risiko gebruik en dat Oranjekas of PAEO nie verantwoordelik is vir enige verlies of diefstal wat deur die gebruik van die kaart ontstaan nie.
  6. Dat u aanspreeklik is vir betalings wat deur Oranjekas gemaak is met betrekking tot die gebruik van die kaart.
  7. NIE die kaart vir enige onwettige doel gebruik nie met insluiting, maar nie beperk tot, die aankoop van goedere of dienste wat deur wetgewing verbied word nie. Die kaart stel u in staat om goedere aan te koop en kontant-voorskotte slegs op 'n elektroniese manier te kry. U moet te alle tye voldoen aan die toepaslike wetgewing, insluitend, maar nie beperk nie tot, wetgewing wat geldwassery bestry. In dié verband erken u dat Oranjekas en PAEO sekere regte en verpligtinge het wat uit sodanige wetgewing ontstaan.

AFTREKKING VAN FOOIE


U magtig hiermee en stem in dat Oranjekas alle standaard diensfooie (waar toepaslik) en toepaslike regeringsheffings sonder kennisgewing gereeld van die kaart mag aftrek. U stem ook in dat Oranjekas fooie vir dienste mag aftrek wat dalk deur u versoek is, maar nie ingesluit is by hierdie bepalings en voorwaardes nie. Oranjekas is nie aanspreeklik vir die dishonorering van enige transaksie wat vir betaling aangebied word weens onvoldoende fondse op die kaart as gevolg van die aftrekking van fooie nie. Oranjekas behou nietemin die reg voor om fooie op 'n later datum sonder kennisgewing af trek as die fooie nie afgetrek kon word op die verskuldigde datum wees onvoldoende fondse nie.

RENTE


Geen kredietrente sal betaal word op die kredietbalans van die kaart nie. Sou u rekening om enige rede 'n debietbalans toon, sal rente gehef word teen die maksimumkoers wat die Woekerwet voorskryf of enige koers wat gereeld deur Oranjekas vasgestel en teen u rekening gedebiteer word. Sodanige rente sal op 'n daaglikse basis aangroei van die dag wat die debietbalans ontstaan met insluiting van die datum waarop volle terugbetaling op die kaart gekrediteer word. Niks hierin sal vertolk word as 'n reg om u kaart te oortrek nie.

BUITELANDSE TRANSAKSIES


U Oranjekas PAEO-kaart kan net gebruik word as 'n Rand-gedenomineerde geldeenheid en kan daarom met gebruik word om vir dienste, aankope en onttrekkings in Rand te betaal.

DISPUUTRESOLUSIE


As u van mening is dat daar foute met transaksies ontstaan het, moet u Oranjekas onmiddellik in kennis stel deur 0860 104 297 te skakel. Oranjekas vereis dat die foute op skrif geplaas moet word en sodanige dokument kan binne tien dae ná mondelinge kennis aan 086 536 9953 gefaks word. As Oranjekas nie skriftelike kennis binne tien dae ontvang nie, sal die eis verwerp word.

BEËINDIGING VAN DIE KAARTFASILITEIT


U kan u reg om die kaart te gebruik, beëindig deur Oranjekas skriftelik in kennis te stel. Dit moet vergesel word deur die kaart wat regdeur die magnetiese strook in twee gesny is en dus nie verder gebruik kan word nie. Oranjekas en PAEO mag op enige tydstip hulle uitsluitlike en absolute diskresie gebruik om die kaart op te skort en die diens te beeïndig. As Oranjekas of PAEO die kaart opskort, moet dit onmiddellik aan Oranjekas teruggestuur word.

AANSPREEKLIKHEID


Oranjekas en/of PAEO sal nie aanspreeklik wees vir enige verlies of skade wat u mag ly as gevolg van verkeerde inligting wat ons aan enige persoon verskaf, of as gevolg van die mislukking en wanfunksie van enige terminaal of verkooppunt wat redelikerwys buite Oranjekas en/of PAEO se beheer is nie. Oranjekas en/of PAEO sal nie aanspreeklik wees vir enige verlies of skade van enige aard ook al en hoe ook al wat uit alle ander oorsake ontstaan nie.

ALGEMEEN


Oranjekas en/of PAEO sal nie aanspreeklik teenoor u wees as enige Oranjekas en/of PAEO-kaartgemagtige handelaar nie die kaart aanvaar nie of Oranjekas en/of PAEO weier om enige transaksie te magtig. U moet enige dispuut wat u met sodanige kaartgemagtige handelaar het, regstreeks met die handelaar bylê. Sodanige dispuut tas nie Oranjekas se regte aan om betaling van u te ontvang nie. As daar 'n verskil is tussen u rekords en die rekords van Oranjekas, sal Oranjekas se rekords bindend wees.
Oranjekas en/of PAEO mag dié ooreenkoms te eniger tyd wysig. Publikasie van sodanige wysigings deur middel van metodes wat hulle mag kies, sal geldige kennis van die wysiging konstitueer. Enige sodanige wysigings sal nie 'n skuldvernuwing konstitueer nie.
U mag glad nie nie die beperkings en voorwaardes wysig of wissel nie. U stem in dat Oranjekas en/of die PAEO teen u mag optree in 'n landdroshof wat gebiedsbevoegdheid het selfs as die bedrag wat u eis meer is as die waarde-bevoegdheid van die hof.
In die geval waar regsoptrede teen u geneem word om geld terug te kry wat volgens hierdie ooreenkoms verskuldig is, sal u aanspreeklik wees vir alle koste wat aangegaan word ( insluitende die regskoste en invorderingskoste) bereken volgens die prokureur-kliënt-skaal.
Hierdie ooreenkoms word beheer en uitgelê in ooreenstemming met die wette van die Republiek van Suid-Afrika.

U gee hiermee opdrag en magtig Oranjekas om 'n Oranjekas PAEO-kaart aan u uit te reik en u vrywaar Oranjekas en/of die PAEO teen enige eise, skade en verliese wat uit dié magtiging en opdrag ontstaan.