Toekomsblik van Oranjekas vir die jaar 2010 {Toekomsblik deur die Besturende Direkteur gelewer aan lede tydens 2009 AJV}
Geagte aandeelhouers en direksie van Oranjekas Spaar en Krediet Koöperatief.
Dit is vir my voorwaar ’n wonderlike geleentheid om op Oranjekas se eerste Algemene Jaarvergadering ’n toekomsblik te gee oor Oranjekas.
In een van ons groot volkshelde se laaste brief aan sy volk, wat ook bekend staan as sy testament, het die groot president die volgende gesê :
“Want, wie hom ‘n toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie. Daarom: Soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin te ontdek is, vorm daarna u ideal en trag om om vir die toekoms daardie ideal te verwesenlik.”
So laat my toe om eers bietjie ’n kort oorsig te gee oor wat die afgelope jaar of twee in die Oranjekas se geskiedenis gebeur het.
Vroeg in 2008 het die idee ontstaan dat ons ’n bank vir die volk, uit die volk moet stig. Daar is baie navorsing gedoen oor die model wat gebruik kan word. Die eerste navorsing was oor wat die vereistes sal wees om ’n kommersiële bank te stig. Die vereistes is GELD. En baie geld. Met so om en by R300 Miljoen kan mens ‘n kommersiële bank stig. Dit was onmoontlik in die situasie waarin ons volk onsself bevind, a.g.v. al die ekonomiese verdrukking wat die vyandige regering ons volk onder plaas.
Die model wat die beste gelyk het vir ons volk was die koöperatiewe bank stelsel, of soos algemeen bekend die Spaar en Krediet model. Gelukkig was daar baanbrekers in die bedryf soos Orania Spaar en Krediet en Kleinfontein Spaar en Krediet. Daar is met die twee Spaar en Krediet Koöperasies gesels oor die moontlikheid van nog so koöperasie wat fokus om die hele volk te betrek.
Na die beplanning is ’n komitee daargestel om die saak verder te ondersoek en te bedryf. Hier moet ons ook vir Huis van Oranje bedank vir die ondersteuning wat die volkseie finansiële dienste verskaffer gespeel het in die beplanning en daarstel van die koöperatiewe bank. Na deeglike beplanning en navorsing is die stigtingsdatum van die Spaar en Krediet Koöperasie aangekondig. Op die 27ste September 2008 is die stigtingsvergadering in hierdie einste saal gehou. Wat ’n besondere geleentheid was dit nie. Ek dink baie van u wat hier sit was daardie oggend ook hier en u kan almal saam getuig dat dit werklik ’n stuk geskiedenis is wat ons geskep het.
Na die stigting het dit ’n goeie 9 maande geneem voor ons ons finale lisensie verkry het. Die oponthoud was by die beheerliggaam SACCOL wat lank getalm het met die registrasie.
Die groot dag waar al ons produkte geloods was, is dan volgens die amptelike rekords die 25ste Junie 2009.
Van daar was dit nog net al die pad sukses op sukses! Die volk het ons baie goed ondersteun, so dat ons van die 55 koöperatiewe banke in SA die een is met die grootste aandeelhouding! En dit in net ‘n paar maande!
Met ’n groei van meer as gemiddeld 60% per maand vanaf finale registrasie het Oranjekas al gevorder tot die 4ste grootste koöperatiewe bank in SA. As ons die groei volhou vir nog 3 maande, dan sal ons reeds die grootste Koöperatiewe Bank in SA wees! Al die ander koöperatiewe banke, Orania en Kleinfontein ingesluit, het tot 5 jaar geneem om te bereik wat ons in 3 maande bereik het! Oranjekas sal dus ook op die voorpunt moet bly met die tegnologie en ander ontwikkelinge om werklik ’n verskil te maak. En ek glo dat Oranjekas nog bankwese in SA gaan verander!
Nou hoe gaan ons bankwese verander in SA?
1. Voortbou op die goeie produkte en koerse van Oranjekas
Oranjekas het al in die algemeen bekend geraak dat Oranjekas beter koerse kan bied as die kommersiële banke. Ek wil my verstout om te sê dat Oranjekas in 90% van die tye die koerse van die kommersiële banke verbeter.
2. Voortbou op goeie diens
Oranjekas lewer sy diens op in Afrikaans, in die kultuur van die Afrikanervolk. En die kultuur van die Afrikanervolk is gasvryheid, flinke diens, ordentlikheid en hoflikheid. Ons ontvang al verskeie komplimente van motorhandelaars, prokureurs en verskeie kliënte wat ons produkte gebruik.
3. Uitbreiding van Oranjekas filiale
Die direksie het besluit dat Oranjekas sodra moontlik, maar in ag genome die finansiële stand van die koöperasie, ’n verskeidenheid takke of filiale wil oprig. Op Woensdag die 5de Augustus is Oranjekas Wesvaal gestig in Klerksdorp en op die 28ste November 2009 vind die stigting van Oranjekas Oosrand plaas. Elkeen van die koöperasies gaan hul eie primêre koöperasie wees, maar met ’n ooreenkoms met Oranjekas oor sekere vereistes wat gestel word. Op die manier kan Oranjekaste regoor die land in verskeie dorpe oprys en kan Oranjekas ‘n huishoudelike naam raak.
4. Goeie personeel
Vir enige bank is die basis sy personeel. Oranjekas sal poog om net die beste personeel aan te stel as daar uitbreidings is. Ons sit reeds met uitstekende personeel met baie goeie ondervinding. Elsie van Staden was van die begin van die bank se bestaan daar en lewer groot en deeglike werk. ’n Maand gelede was Mnr. Kobus Terblanche ook aangestel en sy ondervinding van oor die 40 jaar by ’n groot kommersiële bank kan net tot Oranjekas se voordeel wees.
5. Vestiging van elektroniese bankdienste
Oranjekas het vanaf stigting beplan en begin werk aan ’n sisteem om elektroniese bankdienste aan sy kliënte te lewer. Daar is reeds begin implementeer aan ’n stelsel daarvoor en daar is reeds kaarte bestel vir die stelsel. Die stelsel gaan in 4 fase geïmplementeer word. Die 1ste uitrol van die sisteem gaan kliënte en aandeelhouers in staat stel om internetbetalings te maak, state van hul rekeninge te trek, lugtyd te koop en oorplasings na ander Oranjekas kliënte te maak. Rekeninghouers sal ook verskeie selfhelp dienste op hul selfoon kan doen. Die tweede fase gaan kliënte in staat stel om die stelsel te gebruik om aankope te doen by verskaffers wat ook Oranjekas rekeninge het. Hier dink ons bv. aan al die verskaffers wat lede is van die Oranje sakekamers en enige ander verskaffer wat Oranjekas rekeninge het. Sodoende hou ons die vloei van geld in ons eie stelsel in ons volk se hande. Die derde fase gaan die kliënte in staat stel om met ’n Mastercard transaksies te doen wat vereffen word direk en outomaties op hul Oranjekas rekening. Die Mastercard gaan egter nie ’n Oranjekas kaart wees nie, maar een wat direk op die Oranjekas rekening vereffen. Die derde fase gaan ’n eie Oranjekas Mastercard wees. Daarvoor gaan Oranjekas deur die moeilike en tydsame proses moet gaan om te registreer by Mastercard. die beplande datums vir die uitrol van die sisteem is soos volg :
1ste fase - Januarie 2010
2de fase - Februarie 2010
3de fase - Mei 2010
4de fase - Julie 2010
Die uiteinde van die stelsel moet ’n eie betaal sisteem wees vir die Afrikanervolk. Sodoende kan ons ’n eie ekonomie vestig.
6. Skep van ’n groeifonds vir die ekonomiese vryheidstryd van die Afrikaner
Vir ’n volk om volkome vry te wees is dit nodig dat ’n ekonomie vir die Afrikaner geskep kan word. Die Oranje sake Instituut en Oranjekas is die eerste groot stappe in die ekonomiese vryheidstryd. Daar moet nog gekyk word na ’n volkseie versekeringsmaatskappy, ’n volkseie mediese fonds ens. Daarvoor is daar fondse nodig. Oranjekas gaan poog om ’n reuse-bydrae te maak vir die vestiging van ’n fonds om die dinge moontlik te maak. Beplanning vir die fonds sal vroeg in 2010 begin.
Dankie, vir die tyd wat u my gegun het om meer oor die toekomsvisie van die bank met u as gewaardeerde aandeelhouer te praat. Om af te sluit - Die oggend voor die slag van Majuba het Stefanus Roos die Majuba kop bekyk met die Engelse wat die kop beset het. Ek is seker sy moed het in sy skoene gesak. Hy roep die burgers toe byeen en het die volgende gesê aan die boere :
Ek voel in my hart dat ons die kop moet neem, want anders is ons verlore. Maar hier moet ons met mekaar ‘n verbond maak om die kop te neem of almal te val. Ons God sal ons help en ons sal die kop neem, want ons kan nie anders nie.
Ek gaan ’n paar woorde verander om dit vir ons vandag op toepassing te maak.
Ek voel in my hart dat ons ekonomies moet vry raak, want anders is ons verlore, maar hier moet ons met mekaar ’n verbond maak om ekonomiese vry te raak of almal te val. Ons God sal ons help en ons sal ekonomies vry raak, want ons kan nie anders nie!